Coenie De Villiers

Tyd en Dae

Die jeug verblind sy eienaar teen tyd;
die dae bly lank, die horison bly wyd,
daar is veer in elke tred
daar is buit in elke bed
en die lewe, ongerep en ongelslyt

En dan is daar die jare tussen-in
dis nie die einde nie, maar ver verby begin;
die impotente vrees
oor wat nog kom, oor wat sal wees
word dringend dan die soeke na die sin

En skielik is jy hoogstens nie meer jonk nie
en al soek jy, vind jy nimmer meer die vonk nie;
Dis nie meer geld en die vergaar daarvan wat tel nie,
dis nie die liefde of die soek daarna wat kwel nie -

Want as jy terugkyk oor die jare van jou lewe,
word die sondes van die vaders tog vergewe;
want hier vanaf die einders van die tyd
verlos van kommer en van pyn en van verwyt,
bly net die deernis oor, en dis wat jy verstaan:
dat net die deernis teen die Donker bly bestaan.